Kruistog

Simboliese voorstelling van die verowering van Jerusalem (12de–14de eeu)
Die Franse koning Filips Augustus land in Palestina (14de eeuse miniatuur)
Richard I, genoem Richard Leeuehart, Engeland se grootste kruisridder

Die Kruistogte was 'n reeks godsdiensoorloë wat in die Middeleeue deur die Christelike Latynse Kerk begin, gesteun en soms aangevoer is. Die bekendste van dié militêre veldtogte was dié in die tydperk tussen 1095 en 1291 na die Heilige Land met die doel om Jerusalem en die omringende gebied van Moslemse heerskappy te bevry. In die Eerste Kruistog, wat gelei het tot die oorwinning van Jerusalem in 1099, is dosyne militêre veldtogte gereël wat eeue lank die fokuspunt van Europese geskiedenis was. Die veldtogte het ná die 15de eeu skerp gedaal.

Die term "kruistog" is tydens die Middeleeue nog nie gebruik nie; dit dateer uit 'n later tydperk en verwys na die kruise, wat deelnemers van die kruistogte op hulle kleding aangebring het nadat hulle die kruisvaarderseed afgelê het. In eietydse bronne word ander terme gebruik – soos die Latynse expeditio ("veldtog"), iter ("reis") en peregrinatio ("pelgrimsvaart"). Deelnemers aan kruistogte het na hulself dikwels as peregrini verwys om die beweegrede van 'n gewapende pelgrimsvaart te beklemtoon.[1] Die godsdienstige pelgrimskarakter word ook bevestig deur die feit dat die gemiddelde kruisridder die inkomste van vier tot vyf jaar moes bestee om aan 'n kruistog te kan deelneem.[2]

Franse kruisridders het hul optogte na die Heilige Land in neutrale terme beskryf wat die reiskarakter daarvan beklemtoon het – as voyage de Jérusalem, voyage vers la Terre sainte, passage of voyage d'outre-mer. Die Franse term croisade dateer van die 15de eeu. Die Oksitaanse crozada kom egter reeds in bronne van omstreeks 1250 voor.[3] Ooreenkomstige Duitse, Nederlandse en Afrikaanse terme (respektiewelik Kreuzzug, kruistocht en kruistog) het eers in die moderne tyd gebruiklik geraak.

'n Krities-historiese ondersoek van die Kruistogtydperk vereis 'n noukeurige onderskeiding tussen die godsdienstige en politieke beweegredes vir die grootskaalse Middeleeuse militêre en logistieke ondernemings wat ons vandag as kruistogte in die nouer sin beskryf, en geloofsoorloë in die algemeen. As besondere historiese verskynsels sou kruistogte in die nouer sin ondenkbaar wees sonder die spesifieke godsdienstige, politieke en maatskaaplike konteks van die Hoë en Laat Middeleeue, veral die Middeleeuse Christelike geloofswêreld waarin verlossing 'n sentrale rol speel. Vanuit hierdie konteks het die Latynse Kerk en die kruisridders hulle beperk tot die bevryding en beskerming van Christelike heiligdomme in die Heilige Land, met name Jerusalem – die stad waar die wederkoms van Jesus Christus verwag is. Die tydperk van geloofsoorloë het klaarblyklik nie geëindig met die laaste kruistog en die begin van die vroeë moderne tyd nie.[4]

Onomstrede is die grootskaalse impak wat die Kruistogte op die Westers-Christelike beskawing gemaak het. Aansienlike toegewings is aan Italiaanse stadstate gemaak vir die bystand wat hulle aan Kruisvaarders verleen het. Hulle kon kolonies en handelsposte in die oostelike Middellandse See vestig waardeur florerende handelsbetrekkinge met oosterse markte tot in die Ottomaanse tydperk gewaarborg is. Twee van Italië se seerepublieke of Repubbliche Marinare, Venesië en Genua, het as nuwe Europese moondhede begin optree. In godsdienstige opsig is die gemeenskaplike identiteit van die Westerse Latynse Kerk onder leierskap van die pous gekonsolideer. Op kultureel-literêre gebied was die Kruistogte die historiese bron vir verhale van heldedom, ridderlikheid en vroomheid wat diep spore sou laat in die Middeleeuse literatuur en filosofie. Op maatskaplike en politieke gebied is die nou verbintenis tussen Westerse Christendom, feodalisme en militarisme verstewig.

  1. Adrian Boas (red.): The Crusader World. Abingdon, Oxon: Routledge Taylor & Francis Group 2016
  2. Die Presse, 24 Junie 2013: US-Autor: „Die Kreuzzüge waren Notwehr“. Besoek op 19 Julie 2018
  3. Encyclopédie Larousse en ligne: les croisades. Besoek op 19 Julie 2018
  4. Martin Kaufhold: Die Kreuzzüge. Wiesbaden: Marixverlag 2012, voorwoord

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by razib.in